AFRIKAANSE MUSIEKFEES 12 Set for July 27 in Big Top Arena at Carnival City

By: May. 29, 2013
Get Access To Every Broadway Story

Unlock access to every one of the hundreds of articles published daily on BroadwayWorld by logging in with one click.




Existing user? Just click login.

Dit het alles op 31 Augustus 2002 begin: Lefra Produksies se eerste Afrikaanse Musiekfees in die Big Top Arena by Carnival City. Dit is twaalf jaar later en besprekings is nou oop vir die Afrikaanse Musiekfees 12, vanjaar op Saterdag, 27 Julie 2013 @ 19:00. Tydlose gunstelinge en vars nuwelinge groet die winter en verwelkom die lente op skouspelagtige wyse in die Big Top Arena by Carnival City tydens Gauteng se oorspronklike Afrikaanse Musiekfees! Besprekings kan by Computicket gedoen word by 0861 915 8000, of op hulle webwerf by www.computicket.com. Daar is oudergewoonte 'n lekker afslag vir groepe van meer as 10 - skakel Lefra Produksies by (011) 815-3000, of stuur 'n e-pos aan admin@lefra.com. Hierdie is ook 'n fantastiese geleentheid vir organisasies wat fondse wil insamel. Gesels gerus met Charl Senekal by op dieselfde nommer vir meer inligting, of stuur 'n e-pos aan info@lefra.com.

Die afgelope elf jaar het sowat 200 kunstenaars meer as 35,000 mense vermaak. Daar was van die land se mees bekroonde, gewildste en selfs omstrede kunstenaars, die oues en die jonges, die hoopvolles en tydlose ikone - bloot suiwer Afrikaanse talent! En vanjaar maak Lefra Produksies weer so tydens die Afrikaanse Musiekfees 12. Chris Chameeon, Rocco de Villiers, Tobi Jooste, Karlien Husselman, Dirk van der Wetshuizen, Lee Scott asook Liefste Kayla van die gelyknamige televisiereeks is van die topkunstenaars wat op een verhoog te siene gaan wees in die Big Top Arena!

Soos vorige jare, bring ons die beste van Afrikaanse musiek saam op een verhoog, sê Frans Swart, vervaardiger van die Afrikaanse Musiekfeeste. "Met die Afrikaanse Musiekfees 12 hou ons ons vinger op die pols van kontemporêre Afrikaanse musiek, waar die lyne tussen die verskillende genres so effens gelig word en die resultaat is 'n eklektiese een, met iets vir elkeen se musieksmaak. Ons probeer om 'n totale spektrum van kunstenaars aan ons gehore te bied - van meer gevestigde kunstenaars tot splinternuwe opwindende jong kunstenaars."

Chris Chameleon - vernuwend, prolifiek en eindeloos kreatief, het bekend geraak in Suid-Afrika, asook oorsee, as 'n musikale fenomeen. Met 'n eiesoortige styl, bekoorlike verhoogpersoonlikheid en 'n reputasie om gehore met sy vier-oktaafstem en stemtoertjies te betower, het sy uitsonderlike talent het hom uitstekende resensies en vele toekennings besorg oor die afgelope ses jaar. Toekennings sluit twee Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (SAMAs) en 'n Erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in. In 1997 het Chris Chameleon die basspeler en voorman geword van Boo!, 'n musikale drietal wat in die tussentyd 'n wêreldwye kultusaanhang verwerf het. Toe Boo! se medegroeplede besluit het om hulle musiekinstrumente weg te bêre in 2004, het Chris Chameleon sy vlerke gesprei deur sy Afrikaanse en Suid-Afrikaanse herkoms te ondersoek. Wat gevolg het was "Ek Herhaal Jou', verwerkings van die poësie van die ikoniese digter Ingrid Jonker. Sy album "As Jy Weer Skryf" is benoem vir 'n 2012 'South African Music Award' toekenning vir Beste Manlike Kontemporêre Album.

Pianis, regisseur, skrywer en komponis Rocco de Villiers keer in 2013 terug met sy tiende en mees persoonlike album ooit, en dit is onbeskaamd "Stunning"! "As kind was ek altyd beter as my klavieronderwysers," spot De Villiers, terwyl hy terugdink aan sy klassieke onderrig. "Behalwe een, Tannie Mona du Plessis - en hierdie album is aan haar opgedra. Sy het my geleer om musiek te bepeins en deur die beperkings van die gespeelde komposisie te breek. Dit is waaroor "Stunning" gaan. De Villiers het sy eerste album in 1997 uitgereik, en as sy tiende vrystelling, is die album besonders intiem. "Dit het deels 'n nostalgiese versameling geword," verduidelik hy. "My oorspronklike komposisies het nog altyd om persoonlike stories gedraai, wat duidelik by aanhangers aanklank gevind het, en bly vind."

Tobi Jooste het 'n baie eenvoudige motto in die lewe: "Die lewe is nie 'n kleedrepetisie nie - jy moet lééf! Elke mens behoort te besef dat jy net 'n ingesteldheid weg van sukses is." Tobi, die aantreklike donkerkop sanger uit die Karoo, het die Afrikaanse musiekindustrie amper ‚n dekade gelede met mening getref en 'n besluit geneem om van sy sangloopbaan 'n sukses te maak! En vandag is hy volstoom op pad na sukses! Na sy eerste openbare optrede het Tobi reeds besef dat geen ander beroep hom sou kon bevredig nie. Musiek en plesierigheid is in oorvloed in dié gevoelsmens se bloed. Tobi bekoor oud en jonk met sy geheimsinnig-romantiese en soms lewendige vertonings. Sy optredes is geen gefluister in 'n mikrofoon nie, hy maak sy mond oop en sing: voluit en vol energie. Sy sang kom van binne en elke optrede word 'n verhouding met almal in die gehoor. 'n Kunstenaar soos Tobi Jooste bevestig weer die geloof dat daar groot talent op eie bodem is.

Sedert Karlien Husselman 'n dekade gelede aan Idols deelgeneem het, op televisie gejodel en gesing het en die top 50 gehaal het, het sy vier solo-albums opgeneem. Die afgelope sewe jaar het nuwe deure vir dié borrelende blondekop oopgegaan. Maar nou, op haar vyfde solo-uitreiking en eerste album by Vonk Musiek, was dit tyd om 'n nuwe rigting in te slaan. "Dit was vir my 'n groot besluit, maar tyd om nuwe dinge te probeer en sommer net uit dieselfde rat te klim en kyk wat gebeur." Hunky Dory spog met dertien nuwe liedjies waarvan Husselman tien self geskryf het. "Ons sou eers meer van ander mense se liedjies op die album gesit het, maar ek het later gevoel om meer van my eie liedjies op die album in te sluit." Vir Karlien is musiek 'n soort terapie. Dit is die geskenk wat Hunky Dory aan sy luisteraar bied. Dit is op-en-wakker musiek wat die hart, siel en voete lawe met 'n kraakvarsheid wat besonder skaars is in vandag se kitskos-mark.

Vir Dirk van der Westhuizen is die verhoog geen nuwe ervaring nie - die lewenslustige jong man sing en skryf al van die ouderdom van 12 jaar af en het van jongs af geweet die verhoog is sy tuiste. Die drie-en-twintigjarige Pretorianer het in 2009 begin om sy merk op die Afrikaanse musiekindustrie te maak, en sy eerse CD "Is Dit Jy" is in die jaar daarna vrygestel. In 2012 sluit hy by Maroela Musiek aan en word sy tweede CD "Uithak" vrygestel. Hy het self tien van die liedjies op die CD geskryf. "Ek doen vir die eerste keer die tipe musiek wat ek regtig graag wil doen, die Musiek waarmee ek myself kan uileef op die berhoog", sê Dirk. Hoe meer jy glo in wat jy doen, hoe meer voel jou gehoor dit aan en word aangeraak deur jou Musiek".

Jy druk Lee Scott se musiekstyl nie in 'n kassie nie! Daar's pop, daar's blues, daar's swing. En hy laat dinge uitbundig rock! Daarom laat hy dit aan sy gehore oor om self te besluit waarvan hulle hou. "Ek lééf bloot my droom en gebruik my Godgegewe talent om te sing!" vertel die jong ster. "Ek wil die beste wees en vir my aanhangers gee waarvoor hulle vra". Sy debuut album, "Die Enigste Manier" is in Augustus 2010 vrygestel. Die sukses van hierdie CD word weerspieël deur die twee nominasies wat die CD ontvang het naamlik 'n Suid-Afrikaanse Musiektoekennings-nominasie (SAMA) in die kategorie Best Pop Album asook 'n Huisgenoot Tempo-nominasie in dieselfde kategorie. Lee se nuwe album "Vir Ewig" beloof om die ware talent van die jong sanger te bewys. Oor die nuwe album sê Lee: "Ek wou liedjies opneem vir my aanhangers, liedjies met aansteeklike ritmes en opregte lirieke. Dit moes musiek wees wat uit my hart kom en waarmee my ondersteuners kan identifiseer" Sy grootste uitdaging is om die mense wat nie sy musiek ken te beindruk en te sorg dat elkeen in die gehoor sy liedjies kan saamsing. "Ek is super-opgewonde elke keer wat ek op 'n verhoog stap en ek sing my hart en siel uit!"

Hierdie jaar word die Afrikaanse vermaaklikheidsindustrie aan iets heeltemal nuuts bekendgestel: 'n 14-jarige met 'n stem soos sonskyn en 'n skryftalent waarvan die meeste mense net kan droom! In Januarie vanjaar het daar 'n nuwe musicale komedie-reeks op televisie¸ Liefste Kayla, begin. Die reeks gaan oor 'n jong meisie, Kayla, wat net wil sing. En met die hulp van haar vriende, stig sy 'n blog waardeur sy haar Musiek en lewe met die wêreld deel. In realiteit bestaan die blog ook. En, in realiteit, is Kayla self ook die jong meisie wat net wil sing en haar talente met die wêreld deel.

Bespreek vir die Afrikaanse Musiekfees 12 by Computicket. Besoek ook www.lefra.com.



Comments

To post a comment, you must register and login.
Vote Sponsor


Videos